Die Dakwaaier

So ‘n rukkie terug  is ek opsoek na ‘n gewiggie wat ek aan ‘n dakwaaier se blaaie wil vasmaak. ‘n Tannie het my gevra om haar te help om die ou probleempie vir haar op te los want dis warm in Ceres en sy is werklik bang dat die waaier teen haar dak dalk die stryd sal verloor teen die geweldige vibrasie wat hy teen volstoom genereër.

My soektog vir die “hoendertand” bring my toe by my vriend Mike se hardeware winkel in die middel van die dorp. Met die gebrek aan dakwaaierballanseergewiggies staan ons twee, ek en Mike, toe maar en planne maak oor hoe ons nou diè probleempie te bowe sal kom. ‘n Ander vriend van ons kom daar verby en hoor ons gesprek  wat oor die dakwaaierprobleem gaan.  Nou as jy nou al groot mense gesien het in jou lewe is dit een ding, maar as jy nou iemand soek wat buiten sy enorme stuk lyf, waarvan bitter min vet is, nog hande het wat so groot is dat hy ‘n skottelbraai van kant tot kant sal vol lê, dan is dit nou my vriend Philip.  Al wat groter is as Philip, is sy hart, en al wat langer as Philip is, is sy stories. So toe Philip vir ons sê hy wil ons gou vertel wat met ‘n vriend van hom en ‘n tuisgeboude dakwaaier gebeur het, toe weet ek hierdie Saterdagoggend gaan nie heeltemal so lank wees as wat ek verwag het nie.

Blykbaar het hy ‘n vriend gehad wat baie maklik warm gekry het, die naam het my nou ontgaan, maar ek het hom in elk geval nie geken nie. Die vriend besluit toe om vir homself ‘n dakwaaier te bou om seker te maak dat hy Ceres se hitte terug sal waai tot in die Breërivier. Ons weet mos almal Ceres kry nie lank warm nie maar as die hitte kom dan druk hy die kwik tot waar die termometers begin protesteer.

Nou om te bespaar besluit die vriend toe om sommer een van die ou elektriese motors wat  daar rondlê, te gebruik, maar hou gladnie in gedagte dat 4kw dalk ‘n bietjie groot is vir ‘n dakwaaier nie.  As waaierblaaie word vierkantyster oorgetrek met plaatmetaal en hierdie hele kombinasie word teen die dak geïnstalleer. Na instellasie word almal dan ook genooi om na die pragstuk te kom kyk.

Een van die genooides reken,  toe hy in die paadjie af stap na die voordeur toe, toe dit sy beurt is om hierdie inginieurswerk te gaan bekyk, het dit geklink of een van die lugmag se oorblewende  vier helikopters in daardie huis vasgekeer is. Blykbaar moes hy so half vorentoe leun om by die voordeur in te kom. Die potplante op die stoep het almal so skuins weggelê straat se kant toe soos die wind van binne af hulle groei belemmer het.  Almal was hoogs beïndruk maar tog baie senuweeagtig oor die enorme dakwaaier. Almal behalwe die ontwerper self.

So twee weke na instellasie sien my ou vriend ‘n aflewerings trokkie van een van die dorp se hardewarewinkels voor die deur  van Waaierman se huis staan, gelaai tot op die dakrak met plafonborde, gordynrelings, verf en nog menigte ander los goetertjies. Die nuuskierigheid oorval hom toe heeltemal want my ou mater hou van vars nuus. Hy stap toe nader om uit te vind waar die groot bouery gaan geskied. Wat hy toe daar hoor was ‘n ongeredigeerde weergawe van ‘n katastrofiese, amper fatale ongeluk wat tussen daardie vier mure van Waaierman se kamer  gebeur het.

In Waaierman se eie woorde het alles mooi geloop en het die waaier pragtig gewerk tot en met daardie oomblik van totale chaos. Hy was net klaar met die weeklikse matrasgimnastiek op die snikhete Sondagmiddag  toe die waaier effens tè entoesiasties een van die kantgordyne in die hande kry en met die krag van ‘n hamergooier die gordyn met reëling en al van die muur af pluk en alles wat dit kan bykom teen die mure vernietig met ‘n ondenkbare venyn. In ‘n poging om hulself te red het die wat op die bed gelê het met die laaste gespaarde krag na die Sondagmiddageskapades soos slange van die bed af gegly om darem die laaste “Klap klap klap!” van die waaier  van onder die bed gade te slaan waar hy kragloos in die hoek van die kamer homself tot stilstand gaan ruk het.

Nou dis nodeloos om te sê dat ek teen hierdie tyd myself al amper in maagkrampe in gelag het vir my ou vriend Philip se weergawe van hierdie angsverhaal, maar dat daar wel ‘n groot les te leer is uit hierdie storie is beslis, daarom het ek summier opgehou soek na ‘n  dakwaaierballanseergewiggie en vir die tannie aanbeveel dat sy eerder net die waaier so een spoed moet stadiger stel want soos ons almal weet  “Speed Kills”.

Fishman

Leave a comment